DRC NGK Windhoek

DRC NGK Windhoek

PLAASWYK

Dit mag dalk nog vroeër as 1923 wees, maar verseker nie later nie, toe daar ‘n geestelike beweging op Nina begin ontstaan het onder die families van Van Niekerk, Van Vuuren, Cruywagen, Le Roux, Hauflisch en Erasmus. Op daardie stadium is die boere van Nina-omgewing slegs van tyd tot tyd bedien deur Eerwaarde Leonard vanuit die suide en Ds KW le Roux, die eerste en enigste geordende leraar van Windhoek. Hierdie geestelike beweging het begin momentum verkry toe Pieter  van Vuuren letterlik van plaas tot plaas geloop het om bidure te hou.

Ds KW Le Roux het later selfs die AEB beweging ingeroep om met die bediening op Nina te help en drie gesinne het later as pelgrims aangesluit. Pieter, Willem asook Dolf Van Vuuren het gereeld bidure gehou en daar het ‘n behoefte ontstaan om ‘n kerkgebou op te rig in plaas van om onder bome en seile bymekaar te kom.

Maar waar? Die sogenaamde Kolonianers het Faith as die plek vir die kerkgebou uitgewys. Die sogenaamde Vrystaters het Nina verkies. Uiteindelik is ‘n hektaar grond op Nina van ene Mnr Van Niekerk aangekoop en die kerkgebou in 1932 opgerig.

Bertie Cruywagen het saam met die Van Vuurens lewende-hawe bymekaar gemaak en verkoop om geld bymekaar te maak. Boumateriaal is uit die Unie van Sud Afrika aangekoop wat per trein aangestuur is. Die kalkstene is op Klein Nina (vandag die plaas Vredelust) uitgekap.

Toe die trein met al die boumateriaal op Omitara aankom, is  twee ysterwiel waens met 30 donkies ingespan en met Klein Piet (Lekkerlag) Van Vuuren, klein Dolf Van Vuuren en Bertie Cruywagen gestuur om dit te gaan haal. Die drie jong manne val toe in die pad met Elifas, die handlanger en £5 vir kosgeld.

Op Omitara was daar nie ‘n bank nie. Om die £5 kleingemaak te kry om onder mekaar te verdeel vor kosgeld, moes hulle noodgedwonge ‘n “half jackie” brandewyn by die kroeg gaan koop. Die manne het niks van ‘n kroeg of drank geken nie. Hulle het die brandewyn vir Elifas gegee en die geld onderling verdeel vir kos. Hulle laai toe al die boumateriaal en die besope Elifas op die donkiewa en pak die pad Nina toe aan.

Boumeester Enslin het die bouwerk aangepak. Agter die hoeksteen is daar ‘n silwertroffel ingemessel.

Rodom die kerkgebou is ‘n draadkamp gespan waarbinne die kerkgangers dan oor die naweek uitgekamp het. Die program het al Vrydag met voorbereidingsdiens begin, Saterdagoggend was biduur. Sondag was die Aksiediens met nagmaal en die middag nabetragtingsdiens. Later sou hierdie program effe ingekort word, sodat daar net Saterdag en Sondag kerk was.

Die kerkbanke is plaaslik deur ‘n ene Mnr Garbers van Sandpan, gemaak – kompleet met stokke waaraan die lampe sou hang vir lig. Die preekstoel kom oorspronklik vanuit die N G Kerk Groote kerk Kaapstad, het in ‘n paar kerke diens gedoen en later by De Aar ‘n draai gaan maak voordat dit na Windhoek gestuur is en uiteindelik sy staan in Nina se Kerkgebou gekry het. Ook die klok het ook eers diens in Windhoekgemeente gedoen en is toe later vervang met ‘n groter klok in die huidige Moedergemeente gebou en hang nou by Nina.

Die nagmaal tafel en stoele kom uit Engeland – nie spesiaal laat maak nie, maar aangekoop.

NS Ds KW le Roux het onder meer vir PZ Van Vuuren van Achenib, wie etlike jare as ouderling van Nina diensgedoen het gedoop. PZ se oudste seun Pieter is die laaste doop wat Ds KW le Roux op Swakop gedoop het voor hy die tuig op ouderdom 94 neergelê het.

Die Hanekoms se teater was van gras – ‘n vertelling uit die pen van V E d’Assonville

gepubliseer in DIE HUISGENEOOT van 4 Februarue 1977

Toe daar van 1976 nog slegs twee dae oor was en ek die nuus verneem dat Mathilda Hanekom se sandglas op 80-jarige leeftyd leeggeloop het, het my gedagtes meteens gaan stol op ‘n dag in 1937 toe ek die Hannekom-toneelgeselskap vol stof uit hulle groot “Diamond T”-bus sien klim het. Die plek was by ‘n eensame plaasskool , ver en diep in die Kalahari, ongeveer 170km suidoos van Windhoek. Nina is die plaas se naam en dit het aan oom Dirkie van Niekerk behoort. My oom R G  d’Assonville (ook lankal oorlede) was die hoof van die driemanskool. Die skool is nie meer daar nie, maar ‘n paar geboue vertel nog die verhaal. En wat aangrypend verruklik is, selfs die spore van die Hanekoms le na 40 jaar nog daar en is tot vandag toe nog nooit deur die Kalaharisand toegewaai nie. Ons praat van die geboude verhogie van ‘n groot grassaal wat spesiaal vir die Hanekoms opgerig is waarmee hulle “gedwing” was om hul toneelstukke daar te kom opvoer!

Dit het so gekom: My broer, wat al die jare van sy kort lewe as onderwyser besig was in die afgesonderde, uitgestrekte gebiede van Suidwes-Afrika, het hom geweldig beywer om by sy skool iets van ‘n “kultuursentrum” vir die Afrikaner daar diep naby die sandduine van die Kalahari te skep. En as ons daaraan dink dat dit in die dertigerjare was en dit was depressietyd en wat die ontwikkelingstoestandwas was (bv die naaste telefoon byna 100km ver en paaie byna onbegaanbaar), dan was die koms van die Hanekoms op daardie plek opspraakwekkend; en dat hulle voor ‘n groot vol saal opgetree het, was byna legendaries!

Maar ‘n idee wag om oor te gaan in ‘n daad. Meester d’Assonville was toe skaars 30 jaar oud. Nina se skool was die enigste middel in ‘n wye wereld wat aan die Afrikanerkind ‘n liefde vir sy taal en kultuur en geskiedenis kon kweek.

En toe kom die Hanekoms in 1936 met OOM PAUL in Windhoek. Nina se onderwyser is ook daar en hy neem ‘n besluit: Volgende jaar sal die Hanekoms ook op Nina optree! Na die opvoering word daar ‘n druk gesprek met Oom Hanekom gevoer. Hulle is doodgewillig om na Nina te kom, maar as daar nie ‘n saal is nie, kan dit nie gebeur nie. “Moenie u oor die saal bekommer nie, meneer Hanekom; ses maande voor u koms dan gee ek aan u ‘n waarborg dat ‘n groot ruim saal met ‘n verhoog en kleedkamers tot u beskikking is. Al wat u moet doen, is om te kom. Ek sal ook sorg dat hy propvol mense sit”,  beloof  Nina se onderwyser. Hendrik Hanekom het seker maar gedink dat as so ‘n wonder op so ‘n opskure plekkie kan gebeur, dan is dit seker die moeite werd om daarheen te gaan.

En dit het gebeur! Op Nina en in die omgewing het die nuus vinnig versprei: Mnr d’Assonville en Mnr Coetzee (die ander onderwyser) gaan met die hulp van die skoolseuns ‘n saal vir die Hanekoms bou – ‘n grassaal.

Sal ons skoolkinders van Nina dit ooit vergeet? Ek self was byna tien jaar oud en ons het elkeen ‘n enorme taak gehad. Gelukkig was die Kalahari-gras in die herfs die jaar pragtig lank en ons seuns het gerwe gras afgesny. Ander het dit weer aangedra na die groot houtraamwerk van kameeldoring pale wat ons onderwysers met die hulp van talle bruinmense opgerig het. Nooit sal ons die swaar togte deur die sand vergeet nie hoe my broer met ‘n Faro vragmotor en Mnr Coetzee met ‘n Dodge wat hulle erens geleen het, die groot pale op die plase Marie en Ohio gaan haal het nie. Dit was harde werk en baie sweet – alles vir ‘n bietjie Afrikaner kuns-en-kultuur wat die Hanekoms van ver af moes bring.

Die enkele foto – is dit Africana? – vertel die verhaal. Die groot dag het aangebreek. Hendrik en Mathilda Hanekom met hul geselskap kom. By die winkel van die Louws was ‘n enkele plakaat wat vertel het dat hulle GENERAAL DE WET sou opvoer en die plek is die “skoolsaal” van Nina.

Vroeg die dag het die mense reeds van heinde en ver opgedaag – sommige selfs met donkiekarre. Waar baie van hulle geslaap het, weet ek nou nog nie.

Op die dwarsplanke op houtstompies het die gehoor reeds vroeg die aand soos sardientjies ingepak. Ek het die unieke voorreg gehad om een te wees wat die gordyn (aanmekaargewerkte dubbellakens op mekaar) te trek. Nounog sien ek die twee motorligte wat my broer hoog teen die dak gemonteer het om skuins op die verhoog te skyn. En die voetligte agter die betonrand van die effe skuins verhoog. Dit was kort kerse wat in uitgesnyde konfytblikke gebrand het.

Die opvoering was ‘n reuse sukses van die worstelstryd van die Afrikanernasie rondom die figuur van Generaal De Wet (meestelik deur Hendrik Hanekom vertolk is) – het ‘n onlosmaaklike deel van daardie mense geword. So deeglik en so eg eerlik het hulle ingeleef, dat die persoon wat die verraaier in die stuk gespeel het, selfs na die opvoering met ‘n “sies” toegesnou is.

En nou is daar reeds 40 jaar na hierdie aand verby. Die Hanekoms is nie meer nie en meester d’Assonville is al in 1939 op 32-jarige leeftyd oorlede. Maar die spore van hierdie Afrikaanse Kultuurbouers leef vandag nog daar ver in die Kalahari. Stukke van die ou verhoog waarop hul toneel beoefen het, praat vandag nog.

Dr Dirk Louw preek op Nina vanaf die historiese preekstoel

Omitara was voorheen ‘n buitewyk van Gobabis, maar na Onderhandelinge het Windhoek Moedergemeente onderneem om die mense van Omitara saam met die buur plaaswyke van Gannavlakte en Nina te bedien.

Saam met die politieke en ekonomiese swaartrek van die gemeenskap van Omitara, ly die gemeente ook daaronder. Omitara was destyds ‘n belangrike sentrum waar die boere in die omgewing hulle bees op die trein gelaai het om dit in Windhoek en in die RSA te bemark. Met die agteruitgang van die treindienste, bees wat vandag hoofsaaklik per pad vervoer word en die hoofpad wat verby en nie meer déúr Omitara hardloop nie, het Omitara in alle opsigte gemarginaliseerd (op die spreekwoordelike sypaadjie) gelaat.

Die pragtige Otjivero dam wat destyds ‘n ingenieursprys behaal het, wankel onder droogtes. Vandag is dit ‘n lewensaar vir ‘n onaansienlike plakkerskamp vir werk- en toekomslose mense wat sukkel om te oorleef en waar slegs onwettige dwelm- en drankhandelaars gedy.

Die politiek, ekonomie en uitgerekte droogtes het die boere gedwing om hul boerdery van beesboerdery na wild en jag te verskuif. Dit het ingrypende implikasie vir die kerk en sy bediening. Al die boere in die omgewing is in die jagtyd van Maart tot September/Oktober voltyds besig (24/7) om jagters uit die buiteland te akkomodeer. Geen eredienste of sistematiese bediening kan in hierdie tyd gedoen word nie.

Omstandighede dwing boere ook om ‘n tweede werk of inkomste te genereer. Met verskeie grond en boerderye elders asook ‘n besigheid of tweede werk in die stad en kinders wat “home schooling” doen of in private skole is, maak dat boerdery, boere se huwelike en gesinne ens groot uitdagings moet deurstaan.

Dit dwing die kerk om alternatiewe bedieningstrukture te ondersoek en voortdurend strategiese skuiwe te maak. Die Bybel wat oor eeue geskryf is, leer ons egter van voortdurende veranderinge en uitdagings. Ons kan ons wysheid hierin daar gaan tap.

WEEK VAN GEBED 2018

Ons skop die jaar af met ‘n WEEK VAN GEBED op die plase. Op Sondag 14 Januarie 2018 begin ons by Omitara en kuier vir drie dae daar. Die limate is maar min – net 7 in getal en die bywoning is elke aand 100%! Daar is Diak Harald & Liezel Jacobsz, Des & Ina Breedt, Jaco & Jacky Grobler en tannie Anna Pretorius wat op 88 en in ‘n rolstoel nog op die plaas bly. Die tema is Vriendskapsevangelisasie en die gesprekke raak diep en roer die hartsnare. Ons word Goddelik verryk en die Here seen met ‘n buitjie reen elke aand.

Ons bid vir reen

Harald braai major steaks

Elke aand ontaard kerk in ‘n fees!